Wat behels Skaliegasontginning?

Wat behels Skaliegasontginning?

(Opinion piece on shalegas development and hydraulic fracturing (or “fracking”) written for Beeld Newspaper, 27 March 2011)

‘n Tegniek bekend as hidrobreking word gebruik vir die ekonomiese ontginning van skaliegas. Hidrobreking is nie – soos die bemarkingsdokumente verkondig – ‘n “beproefde proses wat oor 60 jaar in duisende gate getoets is” nie. Dit is nuwe, ongetoetsde tegnologie, en in plekke waar dit reeds geïmplementeer is, het dit tot groot omgewingsskade, veral waterbesoedeling, gelei. Die Oscar-benoemde dokumentêre fliek Gasland lewer ontstellende getuienis van hoe vinnig en wydverspreid die skade kan wees. As gevolg van die groot risiko verbonde aan hidrobreking, is ‘n moratorium op die praktyk geplaas in verskeie lande soos Kanada en Frankryk, asook deur ‘n toenemende aantal Amerikaanse deelstate, insluitend New York, Pensylvanieë, New Jersey, Arkansas, en ander.

Die Haliburton-Skuiwergat

Die rede waarom die praktyk tot soveel skade in Amerika gelei het, is die sogenaamde “Haliburton Skuiwergat” in die Amerikaanse Energiewet van 2005. Ingevolge hierdie wet het die Amerikaanse EPA (Environment Protection Agency) geen magte oor die regulering van hidrobreking nie, en hoef skaliegasontginningsmaatskappye nie aan die vereistes van die Amerikaanse Clean Water Act te voldoen nie.
Dick Cheney

Waarom, as hidrobreking so ‘skadeloos’ is, het dit vrystelling van die Amerikaanse waterwetgewing nodig? Hierdie vrystelling is bekend as die Haliburton Skuiwergat omdat dit in die wet ingesluit is op aandrang van Dick Cheney, op daardie stadium die Vise-president van Amerika, maar wat tussen 1995 en 2000 voorsitter was van die Haliburton oliemaatskappy en wat steeds ‘n salaris van Haliburton ontvang. Staat as Speler én Skeidsregter?
Eers nadat die praktyk groot skade in Amerika veroorsaak het is ‘n studie in September 2010 deur die Environmental Protection Agency (EPA) begin om die impakte van hidrobreking op die omgewing te bepaal, wat in 2014 voltooi sal wees.

Skaliegasontginning en die Suid Afrikaanse Volhoubaarheidsbeginsels 

Indien die Suid Afrikaanse Volhoubaarheidsbeginsels nougeset gevolg word, sal soortgelyke skade hier voorkom kan. Neem byvoorbeeld die Beginsel van Voorkoming, wat vereis dat alle impakte na behore geëvalueer moet word, en dat die aktiwiteit slegs kan voortgaan as dit duidelik is daar geen negatiewe impakte op mense se gesondheid of welstand is nie, en daar geen langtermyn skade aan die omgewing sal wees nie.
Die wetgewing vereis dat Shell ‘n omgewingsimpakstudie doen, wat teen 14 April by Pasa ingehandig moet word. Pasa sal dit daarna evalueer en ‘n aanbeveling maak aan die Departement van Energie rondom die goedkeuring of afkeuring van die aansoek.
Maar nog voordat Pasa die impakstudie onder oë gehad het, vertel Jennifer Marot, geologiebestuurder van Pasa, reeds op 19 Maart aan die Parlementêre Energie-kommittee dat dit ‘onwaarskynlik’ is dat grondwater geaffekteer sal word solank ‘hoë standaarde gehandhaaf word in die sementseëls van die boorgate’.

Dit is kommerwekkend dat Haliburton Shell se voorkeur operasionele vennoot is: Haliburton was verantwoordelik vir die sementseëls van die olieboorgat in die Golf van Mexiko, en in die ondersoek na die oorsaak van die ramp het dit aan die lig gekom dat substandaardsement gebruik is, en toetsresultate wat die probleem sou uitwys verkeerd geïnterpreteer is. Daar is ook tans korrupsie-ondersoeke aan die gang deur die Amerikaanse department van Justisie teen Shell en Haliburton oor hulle aktiwiteite in Nigerië sedert 2004.

Soos Jonathan Deal, van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) tereg opmerk: “Mens wonder waarom, as eerstewereld lande die praktyk stopsit, die Suid Afrikaanse Regering (Pasa) hoegenaamd aansoeke ontvang en oorweeg”.
Die antwoord lê waarskynlik in die huidige stryd binne die ANC tussen die nuwe kapitaliste (soos vergestalt deur die sogenaamde ‘tenderpreneurs’) en die sosiaal-demokrate, waarvan daar blykbaar maar min oor is. Die oliemaatskappye word ondersteun deur die kapitaliste, veral aangesien PetroSA, die Staat se Olie en Gas maatskappy, ‘n 10% aandeel in skaliegas-eksplorasie sal verkry, en dat ‘n verdere 10% toegeken word aan ‘bemagtigingsvenote’ van die suksesvolle eksplorasiemaatskappye. Staat as Speler en Skeidsregter? ‘n Mens kan maar net wonder tot watter mate die kapitaliste in die Regering bereid is om hulle vryheidsstrydbeginsels prys te gee ter wille van ekonomiese kolonisasie vir korttermyn gewin wanneer dit blyk dat Shell beoog om Haliburton ook hier as hulle operasionele vennoot te kies – Dick Cheney was as Senator in die 1980’s ten sterkste gekant teen die vrylating van Nelson Mandela.

Sou die oliemaatskappye en die kapitaliste in die Regering suksesvol wees, sal Suid Afrika se kinders amper 10% van hulle grondgebied kwyt wees, en daarmee saam die waterbronne en weiding en voedselsekerheid en ongereptheid van die gebiede wat hierdie maatskappye onder oë het. Op hierdie stadium is die oliestormloop in Suid-Afrika nog net ‘n papier-en-praat skermutselling, en dit is nog nie nodig dat ons Oupa se .303 agterop die bakkie moet gaan staanmaak nie. Maar ons moet wel ons stemme dik maak en aandring op behoorlike ondersoeke na, en implementering van alternatiewe soos wind- en son-energie en op ‘n verbod op hidrobreking tot wanneer die Amerikaanse studies afgehandel sal wees. Ons is dit aan ons land, en aan ons kinders verskuldig.

Share this Post